Joline van der Merwe, Weskus Media se redakteur, groet die koerantwese aan die einde van die jaar vir eers.
Van der Merwe (36) sê sy het grootgeword met Weskus Nuus as die bron van inligting in Atlantis, waar sy die grootste deel van haar lewe gewoon het, en beskou dit as een van haar motiverings om joernalis te word.
Sy het op 25-jarige ouderdom uit haar beroep as assistent-aankoper by ’n in- en uitvoermaatskappy bedank en joernalistiek aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie gaan studeer.
Haar eerste onderhoud ná haar studies was by Weslander en alhoewel sy nie die suksesvolle kandidaat was nie, het die uitgewer haar CV aan die uitgewer in Worcester gegee, en so het haar loopbaan in 2013 by gemeenskapskoerante begin.
“Dit was nie ’n maklike besluit nie,” vertel die redakteur met die aansteeklike persoonlikheid en passie vir haar werk.
Sy is tans besig met ’n graad in bedryfsadministrasie en dis waar sy haar toekoms sien.
“Ek het lank ook die idee vir ’n boek in my kop en het reeds begin met die eerste hoofstuk. Dan wil ek ook my eie groentetuin begin.”
Van der Merwe se kollegas meen sy is passievol en energiek, en met haar deursettingsvermoë skrik sy vir niks.
Haar en Weskus Media se paaie het gekruis ná die skielike dood van Willie Martin, voormalige Weskus Nuus-joernalis, sewe jaar gelede toe sy uit Worcester na Atlantis verplaas is.
Sy is ná minder as twee jaar by Weskus Nuus bevorder tot redakteur van die Weskus-streekskoerante en moes na die Weskus verhuis, waar sy nou gaan aanbly.
“Atlantis sal altyd my tuisdorp wees en ek sal voortgaan om oral waar ek kom, met trots te verkondig ek is van Atlantis! Die dorp is meer as die bendegeweld en negatiewe stories wat ons daagliks op sosiale media en in die nuus sien. Dis ’n plek met omgee-mense; bure by wie jy nog ’n koppie suiker kan gaan leen.”
Oor haar tyd as redakteur sê sy dit was lang ure en emosioneel uitdagend, en voeg by hoewel dit nie altyd ’n maklik aan die stuur van Weslander en Weskus Nuus was nie, sal sy altyd dankbaar wees vir dié tyd en die lesse wat sy geleer het.
“Baie dankie aan al ons getroue lesers en almal wat betrokke was by die koerant. Ek vertrou julle sal voortbou op die suksesse wat ons al bereik het.”
Sy het ook die span agter die skerms vir hul bydraes tot al die uitgawes bedank.
“Aan die span wat elke uitgawe help om Weskus Nuus aanmekaar te sit en uit te bring: Madelie, Murphy, Yaël, Taryn, Elmar asook die sub-redakteurs by die DTP hub – julle is amazing!”
Justin Cupido, uitgewer van Weskus Media, het Joline bedank vir haar diens.
Die redaksiespan op hul beurt – Trish Goosen, Yaël Malgas, Noluvu Ludidi en Murphy Roberts – meen die beste deel van saam met Van der Merwe werk, is die feit dat sy almal gereeld aangemoedig het en die ondersteuning gegee het om hulself te ontwikkel.


