Raadslede het Maandag 3 Februarie ’n terugvoervergadering vir die inwoners van wyk 32 gehou.

By dié vergadering het die voorsitter van subraad 1, Nora Grose, gesê raads­lede sal in die toekoms meer sigbaar in die gemeenskap wees.

“Dienslewering is nie onderhandel­baar nie en ek sal seker maak dat elke raadslid sy of haar werk doen en aan die gemeenskap terugrapporteer,” het Grose gesê.

’n Nuwe stelsel word in die volgende paar dae geïmplimenteer waar gemeen­skapslede klagtes en versoeke op ’n vorm invul wat dan deur Grose se kantoor beheer sal word.

Grose het ook gesê vergaderings sal nie meer gehou word net omdat daar ’n vergadering moet wees nie, maar om eintlik terugvoering aan die gemeen­skap te gee.

By die vergadering het die subraad­voorsitter uitgevaar teen diegene wat “slegs kritiseer en verskuilde agendas” het en gesê hulle is nie verplig om saam te werk nie, maar moet opsy staan sodat dié wat die dorp wil laat uitstyg hul werk kan doen.

Vir die subraad is een van die groot­ste probleme in Atlantis en omlig­gende dorpe behuising. Grose sê dit gaan nie oornag verdwyn nie en het ’n dringende vergadering reeds met die betrokke burgemeesterskomiteelid aangevra.

“Ek is daartoe verbind om hierdie uitdaging aan te pak, want hierdie probleem duur reeds jare en dit is totaal en al onaanvaarbaar omdat dit nooit opgelos word nie. ’n Dringende vergadering is reeds met Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting vir die metro, belê,” het Grose gesê.

Munisipale amptenare is ook gevra oor waarom die prosesse so sloer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article