Die Groentruie van Mamre kon nie vir ’n beter begin in sy 70ste bestaansjaar gevra het nie toe die tuisspan die besoekers van Genadendal met 52-22 geklop het.
Mamre was rustyd met 22-10 voor in ’n vriendskaplike wedstryd wat Saterdag 15 Februarie gespeel is.
Die besoekers het gou die Mamre-ondersteuners bekommerd gehad met twee onverdoelde drieë om met 10-0 voor te loop. Die span van Dean Okkers en Clarke Roberts (tussentydse afrigters) het stelselmatig hulle voete gevind en met verloop van spel is die “prins van vleuels” soos Bradwin Prins onder ondersteuners bekend staan oor die besoekers se doellyn vir die eerste van sy vyf drieë in die wedstryd. Prins wat nou in twee vriendskaplike wedstryde reeds 13 drieë gedruk het, rig reeds vroeg ’n waarskuwing aan sy teenstaanders in die Boland-Grootuitdaagreeks (Weskus-streek).
Die kranige vleuel, wat ook verlede jaar skoonskip by die klub se bekeruitdeling gemaak het, het reeds vroeg in die tweede helfte gewys dinamiet kom in klein pakkies toe hy sy vierde drie behaal het. Die tweede helfte was ’n wipplankstryd nadat die afrigters sleutelspelers laat rus het. Kenny Stadler, kaptein van die tuisspan, het ook gewys dat hy soos goeie rooi wyn beter word met tyd. Die veteraan, wat reeds uitgetree het en weer teruggekeer het, het egter nie teleurgestel en met sy kraglopies meters veld gewen. Die groen truie sal beslis wil voortbou op sy vertoning van verlede seisoen toe hy vierde geëindig het. Die jong span van Mamre het Saterdag teen Moorreesburg gespeel en die wedstryd maklik met 61-5 gewen.
Die tuisspan het reeds in die eerste 10 minute die wind uit die besoekers se seile gespeel toe hy met 21-0 voor was.
Bradwin Prins het weer eens gewys hoekom hy die prins van vleuels is toe hy nog vier drieë by sy totaal gevoeg het en het nou reeds 17 in drie wedstryde gedruk.
Atlantis het Saterdag op sy tuisveld die besoekers van Darling Tigers onthaal.
Die tuisspan het die besoekers met 21-6 geklop en sodoend
Young Hearts het die Melkboere van Darling op die byenes gepak en was met 31-24 baas.
Die span van Ruben Abels het nou reeds met die Swartland-kampioen van verlede seisoen en die naaswenner van die streek afgereken in sy voorbereiding vir die ligaverpligtinge wat hopelik 14 Maart begin.


