Kaptein Lisa Munro is nou die Atlantis-polisie se kommunikasiebeampte. Foto: Murphy Roberts


Atlantis-polisiekantoor se nuwe kommunikasiebeampte het reeds begin skouer aan die wiel sit.

Kapt. Lisa Munro is glad nie ’n vreemdeling in Atlantis nie – behalwe dat sy reeds 40 jaar hier woon, het sy ook haar polisieloopbaan in 1991 by dié einste kantoor begin en “ek beplan om dit beslis hier te eindig.”

Munro het onlangs by kapt. Cyril Dicks oorgeneem, wat nou in haar plek by die Sea Point-polisiekantoor gaan werk.

Munro is in 2006 as die sosiale­misdaad- en kommunikasiebeampte by Tableview-polisiekantoor aangestel waar sy vir sewe jaar gewerk het voordat sy in 2013 as ’n luitenant bedank het.

Haar passie vir die polisie en gemeenskap het haar in 2016 weer terug laat keer na die polisiediens en is sy as kaptein by Sea Point-polisie aangestel.

Oor haar nuwe rol by Atlantis-polisie sê Munro: “Ek ken die gemeenskap, ek het hier skoolgegaan daarom sal ek dit nie baie moeilik vind om die gemeenskap te verstaan nie.”

Munro wou reeds ’n geruime tyd na Atlantis terugkeer omdat dit haar passie is om terug te ploeg in haar eie gemeenskap, maar weens interne prosedures kon dié skuif nie vroeër plaasvind nie.

Dié ervare polisievrou het reeds by verskeie projekte in die omgewing betrokke geraak en beplan om so gou as moontlik by skole uit te kom.

“Ek het ’n oopdeurbeleid en moedig die gemeenskap aan om nie te skroom om inligting met my te deel nie. Dié inligting sal vertroulik hanteer word. Die polisie is daar om te help.”

Munro sê dinge gaan dalk nie oornag verander nie, maar as almal saamwerk gaan dit beslis verander.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article