Noudat verskeie maatreëls ingestel is om Klein Dassenberg-rylaan te beveilig, steur motoriste hulle steeds min daaraan.
Dié pad, wat nou Atlantis se “pad van die dood” genoem word, het Saterdag 20 Januarie nog ’n slagoffer geëis toe ’n wit Golf en ’n bakkie in ’n botsing was. Volgens omstanders op die toneel het ’n dronk bestuurder – vermoedelik ’n polisieman wat nie aan diens was nie, die botsing veroorsaak toe hy vermoedelik voor die aankomende motor ingedraai het.
Die Golf het twee insittendes gehad, van wie die bestuurder op die toneel dood is.
Omstanders het ook aan Weskus Nuus verklap die polisieman is vinnig van die toneel af verwyder nadat hy vermoedelik vroeër die dag ook in ’n ander voorval, waar ’n vroulike passasier van sy bakkie af geval het, betrokke was. Hy het glo net aangery en was kort daarna by die noodlottige ongeluk in Klein Dassenberg-rylaan betrokke.
Lt.kol. Mario Thyse, die plaaslike waarnemende stasiebevelvoerder, het bevestig twee klagtes is aangemeld. Volgens Thyse het die vrou wat van die bakkie af geval het, ’n klagte aangemeld en hy het bevestig ’n klagte van roekelose en of nalatige bestuur word teen die polisielid ondersoek. Thyse het ook bevestig ’n klagte van strafbare manslag word ondersoek en sê nog klagtes kan dalk by hierdie saak gevoeg word.
Volgens Thyse het speurders wel die bestuurder van die bakkie se bloed in die hospitaal gaan trek, maar kon nie bevestig of die polisiebeampte van die toneel af verwyder is nie.
Dit het gegons op sosiale media van die lid wat só onverantwoordelik optree en mense gons blykbaar steeds dat hy vorige oortredings teen hom het. Dié bespiegelinge kon egter nie teen druktyd bevestig word nie.


