Om foto’s en beeldmateriaal van verdagtes te deel, kan jou in groot moeilikheid laat beland, waarsku die polisie.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het met kommer kennis geneem dat sosialemediagebruikers foto’s en soms selfs ook videomateriaal van gesoekte mense of verdagtes op sosialemediaplatforms versprei.
Die polisie versoek die publiek om hulle daarvan te weerhou om sulke foto’s of videomateriaal rond te stuur. Die polisie herinner die publiek ook daaraan dat hulle negatiewe gevolge kan ly vir diegene wat hulle aan die sirkulasie van sulke foto’s of videomateriaal skuldig maak.
Artikel 69 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Wet 68 van 1995, soos gewysig in 1997), bepaal die volgende:
. 69 (2) Niemand mag sonder die skriftelike toestemming van die nasionale of provinsiale kommissaris ’n foto of skets van ’n persoon publiseer nie –
(a) wat daarvan verdink word dat hy ’n misdryf gepleeg het en wat in aanhouding is hangende ’n besluit om strafregtelike verrigtinge teen hom of haar in te stel;
(b) wat in aanhouding is hangende die aanvang van strafregtelike verrigtinge waarin hy of sy ’n beskuldigde is; of
(c) wat ’n getuie in strafregtelike verrigtinge is of redelikerwys verwag kan word om ’n getuie te wees en wat in aanhouding is hangende die aanvang van sy of haar getuienis in sodanige verrigtinge.
Daar word ’n beroep gedoen op samewerking van die publiek in hierdie verband en bystand en samewerking van mense wat as “admin” op sosiale mediagroepe aangestel is.
Mense met inligting oor misdaad wat gepleeg word, word versoek om hul naaste polisiekantoor te kontak en liewer die moontlike bewysstukke te oorhandig.

