Beskerming deur polisiebeamptes was onder hewige bespreking op sosiale media ná ’n sterk polisieteenwoordigheid by die Atlantis-hof vir ’n hoëprofielsaak.

Die gegons volg nadat die vermeende onderwêreld-grootkop Nafiz Modack en vyf van sy trawante Donderdag (30 Junie) vlugtig in die Atlantis-hof op aanklagte van moord verskyn het.

Modack, Moegamat Toufiek “Bubbles” Brown, Moegamat Ziyaad Poole, Mario Petersen, Riaad Gasant en Fagmeed Kelly word aangekla van die moord op die 74-jarige Nicholaas Heerschap van Melkbosstrand in 2019. Nicholaas was die pa van ’n voormalige lid van die Valke, AO Nico Heerschap, wat Modack ten tyde van die voorval ondersoek het.

Swaargewapende lede van die polisie se spesiale taakmag, lede van die teenbende-eenheid, spesiale taakspan-beamptes en speurders van die eenheid teen georganiseerde misdaad, het die hofsaal volgestaan.

Die groep se verskyning volg nadat Abongile Nqodi ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Nqodi is in April vanjaar ná die ooreenkoms 55 jaar tronk toegestuur nadat hy breedvoerig vertel het wat presies gebeur het. Volgens sy getuienis het hy die moord in opdrag van Modack en Bubbles uitgevoer. Hy het getuig Modack was die finansierder van die moord. Nqodi het aan die hof vertel hulle is R25 000 vir die moord betaal, wat tussen die vyf verdeel moes word.

Nqodi het ook in die hof erken dat hy en drie ander op 9 Julie 2019 na Melkbosstrand is om die speurder te vermoor.

Die destydse polisieman se pa is toe in sy plek afgemaai.

Die groep sal weer vandag (12 Julie) vir ’n moontlike borgaansoek verskyn.

Volgens Nazeer Parker en Igaaz Agchmat wat vyf van die verdagtes verteenwoordig word hul kliënte in verskillende tronke aangehou en is dit tans onduidelik of dié saak dalk by ander teen hulle gevoeg sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article