’n Ma is briesend ná haar seun glo erg deur die polisie aangerand en die hele gesin in die polisieselle gegooi is.
Die Klein-egpaar van Saxonsea is met hul seun en dogter in die selle gestop en glo “lekker pak gegee”.
Die gesin voel daar is geen rede wat die slegte behandeling en “aanranding” wat hul moes verduur, regverdig nie.
Katrina Klein (49) vertel dat ongeveer 30 polisiebeamptes Saterdag 30 Junie omstreeks 17:30 onverwags haar huis in Uitbreiding 13 bestorm het. Klein sê die beamptes het sommer begin trap, vloek en skel toe sy sukkel om die hek oopgesluit te kry.
“Jinne, julle sal tog nie daarvan hou as ons dit by julle plekke doen nie,” het haar seun, Cheslin Klein (22) opgemerk wat glo gestaan en koffie drink het saam met ’n vriend.
Volgens Katrina is hulle daarna almal in die vangwa geprop omdat daar vermoedelik ’n sak dagga op die perseel gevind was.
“Ons verkoop nie dagga nie en het ook nie gesien dat hulle regtig dagga gekry het nie,” sê sy.
Cheslin vertel dat hy wel daggasigarette rook. Volgens hom het die polisie hom na ’n donkerkamer geneem, waar hy “goed afgestof is” en ook met rubberkoeëls geskiet is.
Hy beweer verder dat een van die polisiebeamptes hom gekoggel het dat “niemand kan sien wat ons hier aan julle doen nie.”
Cheslin vertel verder dat hulle hom met die agterkant van ’n geweer geslaan het. Die twee rubberkoeëlwonde is duidelik op sy rug sigbaar en hy het mediese behandeling daarvoor ontvang.
Volgens ’n betroubare polisiebron het beamptes ook ’n man se oog met rubberkoeëls uitgeskiet kort nadat Klein deurgeloop het. Die bron sê die beamptes beweer die mense wat aangehou word, sit die ligte af en val hulle dan aan en daarom moet hulle hulself verdedig. Die bron sê ook daar is geen skakelaars in die selle nie. “Hulle praat twak,” beweer hy. Sers. Noloyiso Rwexana het bevestig ’n man (35) wat deur die polisie aangehou was, is in “ ’n voorval” beseer. Hy is na ’n hospitaal geneem vir behandeling. Rwexana sê die voorval word ondersoek.




