Die Atlantis-polisie het altesaam vyf vuurwapens in een week kort voor die nuwe jaar uit die gemeenskap verwyder en verskeie mense is aangekeer.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het polisielede Woensdag 29 Desember gesien iemand laat iets val toe hy die polisie gewaar. Die beamptes het gaan kyk en gesien dit was ammunisie en het die verdagte deursoek en ’n vuurwapen gekry.
Die 27-jarige man is aangekeer weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die volgende dag het polisielede verskeie mense in Proteapark deursoek en ’n 32-jarige met ’n vuurwapen en ammunisie aangekeer, vertel Munro.
’n Gewapende rower wat op Nuwejaarsnag op ’n vulstasie toegeslaan het, het ook sy moses teëgekom toe veiligheidskamera hom vasgevang het.
Volgens Munro het die polisie op ’n adres in Saxon Sea toegeslaan en die verdagte met ’n vuurwapen in sy besit aangekeer.
Die gemeenskap het ook hul deel gedoen, vertel Munro.
Inligting is ontvang wat daartoe gelei het dat nog ’n man met ’n vuurwapen in Avondale aangekeer is. Volgens kol. Cyril Nkuna, bevelvoerder by die Atlantis-polisie, is dit duidelik dat die gemeenskap keelvol vir die geweld is.
Hy meen die inligting oor vuurwapens het al baie lewens gered.




