Die Atlantis-polisie in samewerking met die metropolisie en die Stad se wetstoepassers bult hul spiere behoorlik vir mense wat die inperkingsreëls verontagsaam.
Volgens lt.kol. Delven Matroos, waarnemende stasiebevelvoerder van Atlantis-polisiekantoor, het die beamptes reeds meer as 200 mense aangekeer sedert die nasionale inperking wat om middernag op 26 Maart begin het.
Matroos het ’n ernstige waarskuwing aan inwoners gerig dat die polisie oortreders sal vasvat wat weier om in hul huise te bly en sonder rede in die strate rondloop.
Volgens Matroos word eerste oortreders met boetes wat wissel tussen R1 000 en R1 500 vrygelaat, maar tweede oortreders word aangekla en voor die hof gedaag. Volgens hom steur inwoners hulle nie aan die wet nie en sê dit is ’n duidelike teken dat hulle nie die erns van die situasie verstaan nie.
“Die inperkingsreëls het ook sy voordele aangesien misdaad drasties in die tyd verlaag het,” vertel hy. Hy sê die polisie het ook op duisende liters wyn beslag gelê en verskeie mense aangekeer.


