Konstables Laurenzo Arendse en Chris Koopman se wakker optrede het verhoed dat ’n groot hoeveelheid dwelms in die tronkselle beland.Foto: Murphy Roberts


Twee wakker polisiebeamptes het Vrydagoggend (22 Oktober) verhoed dat ’n groot hoeveelheid dwelms by die gevangenis ingesmokkel is.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder vir die Atlantis-polisie, is die twee verdagtes die vorige dag aangekeer nadat ’n klein hoeveelheid dwelms by hulle gekry was.

Volgens ’n betroubare bron was die dwelms reeds goed aan die twee versteek en wou hulle net in hegtenis geneem word sodat hulle die dwelms van die hofselle af kon insmokkel.

Die twee polisiebeamptes het die verdagtes na die hofselle vervoer en begin vermoed iets is nie pluis nie omdat die verdagtes “snaaks” geloop het.

Konst. Chris Koopman het opgelet die een verdagte loop snaaks en het hom eenkant geneem, en ná verdere ondersoek is ’n deel van die dwelms in sy agterstewe ontdek.

Konst. Laurenzo Arendse het die ander verdagte deurgesoek en nog dwelms opgespoor. Die mandrax-tablette, kokaïne en ’n tiklollie was glo verpak om by die gevangenis ingesmokkel te word.

Volgens kol. Cyril Nkuna, stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, is hy trots op die beamptes wat oplettend was en sê dit is ’n duidelike boodskap aan bendebase wat dwelms probeer insmokkel dat polisiebeamptes kennis neem van hul bewegings.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article