Agter staan sers. Grant Dyason, sers. Elroy Damonse, konst. Stanton van Heerden. Konsts. Jaimy Lee Cyster, Daphne Timotheus en Timothy Daniels staan voor.Foto: Verskaf


Die plaaslike polisie het op ’n groot besending dwelms, wat glo vir die Malmesbury-tronk bestem was, beslag gelê.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie Woensdag 3 April op ’n wenk gereageer dat daar dwelms in die hofselle is. Die polisie het die hofselle deursoek en op verskeie dwelms beslag gelê.

Selfone met laaiers, oorfone en dwelms is gekry en vyf mans is aangekeer, het Munro bevestig.

Die mans, wat in die Malmesbury-gevangenis in aanhouding is, het dié betrokke dag op ander aanklagte verskyn. Volgens Munro is dit in hierdie stadium onbekend hoe die dwelms – Mandrax en dagga – in die mans se besit beland het. Die vyf sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van besit van dwelms.

In ’n afsonderlike voorval het die Atlantis-misdaadvoorkomingseenheid op Vrydag 29 Maart reageer op inligting dat drie mans in die rigting van Proteapark met vuurwapens hardloop. Volgens Munro het die polisie se vinnige optrede drie verdagte mans wat in die rigting van Daturastraat gehardloop het, vasgetrek.

Munro sê een van die mans het ’n vuurwapen in iemand se erf gegooi, maar is aangekeer. Sy bevestig die man het toe hy deursoek is, nog ’n vuurwapen by hom gehad. Volgens Munro is die verdagte positief verbind met ’n moord wat minute vroeër in Shelly Court gepleeg is toe ’n man in die kop geskiet is. Lede van die polisie en wetstoepassingsbeamptes het later die aand ’n verdagte deursoek waar die moord vroeër gepleeg is, en ’n onwettige vuurwapen gevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article