Twee polisielede moet op 14 Februarie weer in die hof verskyn op aanklagte van ontvoering en poging tot moord.
Dié twee is verlede jaar deur die Onafhanklike polisie-ondersoek-direktoraat (Opod) by die polisiekantoor in hegtenis geneem.
Die lede het vermoedelik – nadat verskeie kere by lede se motors op die polisieperseel ingebreek is – besluit om reg in eie hande te neem.
Drie polisielede het, nadat een se motorbattery gesteel is, vermoedelik drie verdagtes in Neptune Castle gaan haal en na die nywerheidsgebied gery.
Een van die verdagtes is glo uit die vangwa gehaal en erg aangerand.
Die polisielede, van wie een net gestaan en kyk het sonder om haar kollegas te keer, het na bewering op die man geskiet om hom af te skrik in die hoop dat hy sal sê waar die battery is.
Die man is egter glo in die been getref, verder aangerand en vir dood in die bosse gelos.
Die voorval, wat op 14 November verlede jaar plaasgevind het, het die dorp omtrent in rep en roer gehad en baie inwoners voel geregtigheid moet geskied.
Die twee staar aanklagte van ontvoering en poging tot moord en is elk op borgtog van R15 000 vrygelaat.
Volgens die pa van die jongman, wat weens vrees vir intimidasie nie sy naam genoem wil hê nie, is hy baie ongelukkig dat die polisie, wat veronderstel is om mense te beskerm, die reg so in eie hande geneem het.
“Indien my kind wel skuldig is aan enige misdaad, kon hulle hom net in hegtenis geneem het.”
Volgens die pa sou hy nooit geweet het wat gebeur het as die twee wat saam sy seun aangekeer is, nie alarm gemaak het nie en hulle na die toneel geneem het.
Hy vertel dat hy sy erg aangerande seun steeds in die bos aangetref het, waar die gevoellose polisiemanne hom gelos het.
“Ons moes omtrent rondhardloop om mediese hulp te kry, en dit is een saak wat nie net gaan verdwyn nie,” vertel hy.




