Wetstoepassers maak gereed om die ongelukkige skare uiteen te dryf in die onderonsie met inwoners van Neptune Castle.Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Neptune Castle het op sosiale media gal gebraak oor die optrede van ’n handjievol inwoners wat meer kinders betrokke gehad het.

Inwoners en wetstoepassers het Vrydag 31 Januarie met rubberkoeëls en klippe toegeslaan. Inwoners was woedend nadat wetstoepassers glo ’n onwettige struktuur afgebreek het en daarna het alle hel losgebars. Inwoners en kinders het die manne in blou met klippe begin stook, wat op hul beurt met rubberkoeëls geantwoord het.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is verskeie mense in die voorval beseer en verskeie motors agter die polisiekantoor beskadig. Volgens Munro word verskeie klagtes van openbare geweld en ’n klagte van opsetlike saakbeskadiging ondersoek.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Tydens WeskusNuus se besoek aan die toneel het klippe en rubberkoeëls nog oor en weer gevlieg. Omgekrapte inwoners het net gesê hulle is kwaad oor die manier waarop die wetstoepassers opgetree het.

“Ons kan nie die kinders blameer wat betrokke geraak het [nie] aangesien hulle eerste met ons onbeskof geraak het,” het een gesê.

Volgens die wyksraadslid Allister Lightburn is dit hartseer om te sien dat ’n handjie vol mense met hul optrede onskuldige en senior inwoners van die buurt se lewe in gevaar gestel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article