Die Atlantis-polisie het die Paasnaweek gereelde padblokkades gehou, maar geen dronk bestuurders is aangekeer nie. Foto: Verskaf


Twee polisiebeamptes van die Atlantis-polisie het byna nie Paaseiers saam met hul naastes geniet nie toe drie mans die afgelope naweek op hul voertuig begin losbrand het.

Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, was die twee beamptes verlede Maandag (5 April) by ’n moordtoneel in Charel Uysrylaan en op pad met ’n verdagte toe hulle aangeval is.

Munro sê die drie verdagtes het ongeveer nege skote op die beamptes geskiet, maar gelukkig niks of niemand getref nie.

Die twee polisiebeamptes het vir bystand gevra nadat die verdagtes tussen die Dura-woonstelle verdwyn het. Die drie verdagtes is later aan hul kleredrag uitgeken en aangekeer. Hulle word van poging tot moord aangekla.

Volgens Munro is die aanval op die polisie nie die eerste nie. Die plaaslike polisie word gereeld aangeval – veral wanneer verdagtes aangekeer word.

Munro het die gemeenskap gevra om die polisie toe te laat om hul werk te doen en nie boosdoeners te ondersteun en te beskerm nie. Volgens Munro het Atlantis ’n redelike kalm Paasnaweek gehad. Sy het gesê die meeste oortredings was dwelmverwante sake. Bestuurders het hulle gedra en by die wet oor dronkbestuur gehou, en geen dronk bestuurders is die Paasnaweek in Mamre aangekeer nie.

Verskeie bestuurders is egter in ’n twee dae lange padblokkade in Atlantis weens onpadwaardige voertuie beboet en baie is ook sonder hul rybewys betrap, het Munro bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article