Inwoners van Mamre het gisteroggend betoog en alle in- en uitgange na die dorp blokkeer. Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Mamre sê hulle is keelvol vir leë beloftes en soek behuising en werksgeleenthede vir die werklose jeug van die dorp.

Inwoners het gisteroggend (Maandag 27 Julie) alle in- en uitgange na die dorp versper.

Volgens ’n inwoner, Elvino Skippers, het hulle vreedsaam betoog, maar die polisie het nie hul samewerking gegee nie. Terwyl motorbande in die pad gebrand het, het die polisie inwoners gemaan om uitmekaar te gaan omdat hulle die Rampbestuurswet oortree.

Met Weskus Nuus se besoek, het polisielede met rubberkoeëls op betogers geskiet waarna inwoners klippe en bottels na die polisie geslinger het. Terwyl inwoners onthuts gelaat is oor die manier hoe die polisie die situasie hanteer het, het die polisie skerp ammunisie gebruik om die skare uitmekaar te dryf. Verskeie mense is deur die polisie in hegtenis geneem vir oproerige gedrag. Skippers vertel baie inwoners is reeds 30 jaar op ’n waglys en voel ook dat die polisie nie juis baie doen om die gemeenskap teen misdadigers te beskerm nie.

“Ons het vreedsaam met plakkate gestaan en die polisie gevra om mense te beveel om eerder om te draai, maar die polisie het mense in en uit gelaat, wat inwoners kwaad gemaak het en vure het weer begin opvlam,” vertel Skippers.

Die inwoners versoek ook dat die burgemeester hulle moet kom toespreek oor hul kwessies.

Volgens brig. Novela Potelwa, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is verskeie mense vir oproerige gedrag in hegtenis geneem. Teen druktyd was die situasie steeds gespanne en het die polisie se openbare orde-eenheid ook opgedaag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article