Plastiekbesoedeling in oseane het een van die mees kommerwekkende omgewingsprobleme van die moderne lewe geword, aangesien die vinnige toename in die produksie van weggooibare plastiekprodukte die wêreld se vermoë om dit te hanteer, oorweldig.
Plastiekbesoedeling kom die meeste in ontwikkelende lande in Asië en Afrika voor aangesien vullisverwyderingstelsels dikwels ondoeltreffend is.
Plastiek is goedkoop, lig en sterk. Ongeveer agt miljoen ton plastiek beland jaarliks in die wêreld se oseane. Drywende plastiekrommel is tans die algemeenste wat die oseaan se biodiversiteit vernietig.
Afval-plastiek maak 80% van alle oseaanafval uit. Reënwater en wind dra plastiekafval na strome en riviere en deur dreine, wat na die see lei.
Wat ons op die oppervlak sien, is slegs ’n breukdeel van die werklike situasie, aangesien die meeste vullis op die seebodem lê.
Dit beteken dat dit onwaarskynlik is dat dit ooit heeltemal opgeruim sal kan word.
Baie maniere bestaan egter hoe mense as ’n gemeenskap en bevolking kan saamstaan en ’n beduidende bydrae kan lewer om die omgewing en oseane te beskerm.
Verminder afhanklikheid van plastiek
Verminder enkelgebruik-plastiekartikels soos inkopiesakke, strooitjies, koffiekoppiedeksels en weggooibare eetgerei.
Gebruik meer omgewingsvriendelike produkte.
Hou op om water te koop
Elke jaar word ongeveer 20 miljard plastiekbottels weggegooi. Gebruik eerder ’n glas- of metaal-waterbottel.
Kook meer
Om jou eie maaltye te berei, behels nie wegneemhouers of sogenaamde woefkardoes nie. Moenie vra vir plastiek eetgerei saam met jou wegneemetes nie.
Koop tweedehandse produkte
Nuwe speelgoed en elektroniese toerusting is in allerhande plastiekhouers verpak. Soek na plaaslike motorhuisverkope of aanlyn markte vir gebruikte produkte.
Herwin
Minder as 14% plastiek word herwin. Dit is belangrik om soveel as moontlik van die herwinningsdienste in plaaslike gemeenskappe gebruik te maak.
Koop in grootmaat
Vir goed wat jy gereeld koop, soos jogurt, toiletware, neute of speserye, oorweeg dit om mettertyd die groter houer te koop in plaas van kleiner houers. Dit help om die hoeveelheid plastiekhouers of -verpakkings wat mense gebruik, te verminder.
Bring jou eie sak vir jou kledingstukke na die droogskoonmaker
Belê in ’n sak met ’n ritssluiter en vra dat jou skoongemaakte klere daarin teruggegee word in plaas van die omhulsel in plastiek. (Maak seker dat jy ’n droogskoonmaker gebruik wat organiese of meer natuurlike skoonmaakmiddels gebruik).
Plaas druk op vervaardigers
Hoewel ons ’n verskil deur ons eie gewoontes kan maak, het maatskappye natuurlik ’n baie groter voetspoor. As jy van mening is dat ’n onderneming slimmer kan wees oor hul verpakking, moet jy jou stem laat hoor. Skryf ’n brief, stuur ’n twiet of druk hulle waar dit regtig seermaak: Gee jou geld aan ’n meer volhoubare mededinger. Ondersteun maatskappye wat deel van die Suid-Afrikaanse plastiekverdrag is. Hierdie ondernemings streef daarna om omgewingsvriendeliker maniere te vind om hul produkte te verpak en te benut.
Deur hierdie paar stappe te beoefen, kan ons almal bydra om Moeder Aarde positief by te staan waar sy ons die nodigste het. Probeer elke dag een ding doen wat help om die plastiekverbruik en die gevaar daarvan vir ons pragtige aarde te verminder.
. Kontak hello@atlantissez.co.za vir nog inligting om plastiek te verminder of te herwin.


