Die wenners van Swagg United se eerste “Atlantis het talent”-kompetisie, Ingrid Beets School of Dance, het die gehoor op hul voete gehad met hul dansroetine wat die ene energie en passie was.Foto: Clement Trussell


Die gemeenskap van Atlantis, Mamre en Pella is onlangs behoorlik deur plaaslike talent by die Atlantis-talentkompetisie vermaak.

Die kompetisie is Saterdag 1 Mei in die Loben-saal in Mamre aangebied.

Volgens Elsalene Saligee, die organiseerder en uitvoerende hoof van Swagg United, het hulle baie inskrywings van deelnemers vir die kompetisie gekry.

Sy sê die doel van die kompetisie was om elkeen die geleentheid te gee om hul talente ten toon te stel. Dit het deelnemers ook die geleentheid gebied om op die verhoog te verskyn.

Saligee sê dit was hul eerste poging. Sy meen die belangstelling was groot – nie net van deelnemers nie, maar ook die gemeenskap wat na die vertoning kom kyk het.

“Ons plan is om saam met elke deelnemer of groep te werk om hul talente verder te kweek en seker te maak hulle bereik nuwe hoogtes,” het Saligee aan Weskus Nuus vertel.

Uit die 44 deelnemers is die dansers van die Ingrid Beets School of Dance as die wenners gekroon nadat hulle die gehoor behoorlik laat lekkerkry het terwyl hulle dans.

Saligee sê hulle beplan reeds die 2022-kompetisie, wat dalk oor drie aande gehou sal word om meer mense die geleentheid te gee om deel te neem.

Sy het elke deelnemer, borg en die gehoor vir hul ondersteuning bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article