Inwoners van plase op die Silwerstroomstrand-pad het verlede week water gekry nadat hulle vir weke sonder dié noodsaaklike hulpbron was.
Cynthia Clayton, raadslid van wyk 29, Allister Lightburn, proporsionele raadslid vir die wyk, Wessie van der Westhuizen, bestuurder van subraad 1 en MK1 Lifestyle het kragte saamgesnoer om inwoners van water te voorsien.
Volgens Van der Westhuizen het inwoners hom genader omdat hulle geen water in die krisistyd het nie. Lightburn het met Ricardo Skippers van MK1 Lifestyle geskakel en hulle het dadelik met ’n plaaslike sakeman, Umer Dollie, gepraat wat ’n 2 000 F-houer beskikbaar gestel het. Die groep het ook 20 kanne van 5 F water gereël. Volgens Clayton het die Stad Kaapstad voorheen altyd ’n groot houer teen die pad gesit en gereeld vol gemaak. Clayton vertel kwaaddoeners het die houer vol gate geskiet en dit was moeilik vir ’n vragmotor om in die gebied te ry omdat die pad nie op standaard is nie. Die Stad se waterafdeling het egter ’n ander roete gekry en lewer nou elke derde dag water af. Inwoners is dit eens dat die water nie op ’n beter tyd vir hulle kon kom nie en sê hulle is tevrede met die moeite wat gedoen word om water by hulle te kry.


