Besoekers van Darling, Hopefield, Atlantis, Pella, Kaapstad en Wellington het Saterdag 14 November in Mamre toegesak vir die jaarlikse gimkana.
Dié geleentheid, wat deur die Mamre-perdevereniging gereël is, het in Enon- en Grysbokstraat plaasgevind.
Gimkana is perdesport waar ruiters hul vaardighede en vernuf in verskillende speletjies moet uitoefen soos sakresies, eier op die lepel en veel meer.
“Ons aansoek by die Stad Kaapstad om ’n geskikte perseel te huur vir ons byeenkoms het ongelukkig gefaal. Ons moes noodgedwonge gebruik maak van ’n alternatiewe oop stuk grond tussen Enon- en Grysbokstraat,” het Oscar Pick, voorsitter van dié vereniging, verduidelik.
Volgens Pick het Carl Carelse en Amandla-konstruksie die grond gelyk gemaak vir die byeenkoms wat uiteindelik ’n “reusesukses” was.
Die vier kategorieë waarin ruiters deelgeneem het, was kinders o.8, die primêre afdeling (10-14), sekondêre (15-18) en die senior afdeling vir 18-jariges en ouer. Elke kategorie het ook ’n onderafdeling gehad waarin deelnemers dit moes uitgespook om die toppryse van die dag.
Die vasberadenheid, mededingende gees en deursettingsvermoë van Christo Prins het aan hom die wentrofee besorg in die o.8-afdeling.
C-Jay April was die wenner van die primêr afdeling terwyl Shean Sampson die wenner vir die 15-18-jariges was.
In die senior afdeling het William Manus met die louere weggestap.
Deelnemers het nie teleurgestel nie en is ook beloon met pryse vir hul bydrae om die sport te bevorder, vertel Pick.
“Ons doel is om gimkana by jong kinders te bevorder en hulle bewus te maak oor die belangrikheid van diere. “Ons wil hulle ook weghou van verkeerde dinge soos dwelmmisbruik en bendebedrywighede,” het Pick gesê.
Die organisasie bedank die inwoners en alle borge, onder meer Sha-Zah, Mamre Mini OK en Amanla-konstruksie.
“Sonder die ondersteuning en bydrae tot die byeenkoms, sou ons nie ’n suksesvolle gimkana kon gehou nie. Ons beoog om dit nou ’n jaarlikse instelling in Mamre te maak,” het die vereniging laat weet.





