Wetstoepassers het die naweek ’n wakende oog oor onwettige grondbesetters in Witsand en Proteapark gehou en geen voorvalle van geweld is aangemeld nie. Foto’s: Murphy Roberts


Politieke partye probeer enkele dae voor die nasionale verkiesing alles in hul vermoë om kiesers te oorreed om vir hulle te stem.

Atlantis was die afgelope naweek in rep en roer toe ’n politieke party sy lede aangemoedig het om grond in Witsand te beset.

Inwoners van die gebied het hulle na die oop stuk grond tussen Witsand en Proteapark gehaas, maar het hulle gou in wetstoepassers en omgekrapte inwoners van Proteapark vasgeloop.

“Dit sal nie hier by ons geduld word nie,” het inwoners gesê.

“Ons is al jare op die waglys vir behuising en soos ons moet wag sal almal moet wag.”

Kleiner partye het probeer munt slaan uit die situasie en het inwoners van Proteapark aangemoedig om self daar te plak. Daar het egter dadels van gekom nadat wetstoepassers ’n ogie oor die situasie gehou het.

Politieke leiers hier het op hul sosialemediabladsye sterk uitgevaar teen die situasie en beweer wetstoepassers pak inwoners van Witsand met handskoene. Hulle beweer dat daar twee jaar gelede op inwoners van Atlantis geskiet is terwyl Witsand-inwoners “kan maak wat hulle wil”.

Allister Lightburn, die subraad 1-voorsitter, het teruggekap en gesê die situasie was onder beheer en daar was geen rede hoekom wetstoepassers moes optree teen enige van die groepe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article