Charles Oppelt het nooit toegelaat dat sy omstandighede hom onderkry nie. Hy is nou die Suid-Afrikaanse rolstoel-liggaamsboukampioen en wil ook ander inspireer om dieselfde te doen.


“Moenie toelaat dat jou omstandighede jou onderkry en jouself vir jou omstandighede blameer nie.”

Só sê die parapleeg Charles Oppelt (37) van Mamre.

Charles, wat reeds 20 jaar aan ’n rystoel gekluister is, het onlangs bewys vir hom is alles met deursettingsvermoë en wilskrag moontlik dat toe hy as die Suid-Afrikaanse rolstoel-liggaamsboukampioen gekroon is.

“Ek het as 17-jarige rugbyspeler ’n ernstige nekbesering opgedoen en my drome om eendag die groen en goud oor my kop te trek, het in ’n nagmerrie ontaard,” vertel die nederige Charles.

“Ek was in graad 10 en ná byna ’n jaar in die hospitaal is ek terug skool toe om eers my matriek te voltooi, waarna ek my diploma in bemarking voltooi het. Ek het besef – om myself te bejammer, gaan my nie baie in die sak bring nie, en met ’n uitgerekte hofgeding wat tot in die Grondwethof gedraai het, het ek deurgedring, want niemand wou verantwoordelikheid aanvaar vir my besering nie. Ek het hard aan myself gewerk,” sê Charles.

“Ek het besluit tussen die hofsaak en my loopbaan wou ek net sport doen. Ek het eers rolstoelrugby gespeel en my WP-kleure gekry. Ek was honger vir sukses, en deur alles het iemand wat saam met my fisio gedoen het, voorgestel ek moet liggaamsbou probeer. Ek was eers skepties, maar my positiewe uitkyk op die lewe het my oortuig dit is die regte ding om te doen,” vertel Charles.

“Ek het met die regte ondersteuning van my familie oor die jare soos ’n ervare liggaamsbouer gevoel toe my naam uitgeroep word, en ek het eers in ongeloof na die klomp mense gestaar wat na my kom kyk het en vinnig besluit om net my ding te doen, en – soos hulle sê – die res is geskiedenis!

“Ek probeer ook net aan mense te wys ’n mens kan ongeag jou omstandighede met ’n positiewe gestel enige storm oorleef, en glo my, ek het baie oorleef. En hier is ek nou ’n Suid-Afrikaanse kampioen!”

Charles sê sy volgende projek is om Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele te verteenwoordig. Hy sê hy wil daardeur mense inspireer om nooit op te gee nie, ongeag hul omstandighede.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article