Die Boland-rugbyunie bly daartoe verbind om die kontrakte met die spelers soos vroeër vanjaar gesluit is, te eerbiedig.

Ivan Pekeur, die Boland-rugbyunie se president, verwelkom SA Rugby se besluit om alle rugby aangaande die eerste liga sowel as die klubrugbyseisoen vir die jaar op te skort.

“Die besluit verwyder alle bespiegelinge dat daar wel rugby sou kon wees.

“Die feit dat die Covid-19-pandemie steeds ons gemeenskappe in ’n wurggreep van vrees en onsekerheid geplaas het, is dit in almal se belang dat alle rugby in ons streek vir eers opgeskort bly,” het Pekeur die week in ’n verklaring gesê.

“Ons glo lewe is meer werd as rugby en dit is inderdaad ’n groot terugslag vir die rugby-gemeenskap van ons streek.

“Ons weet ook dat dit ’n groot ekonomiese terugslag vir klubs en ons streek is en klubrugby het sy eie ekonomiese stelsel en talle is daarvan afhanklik,” het die rugbybaas verder verduidelik.

“In die huidige klimaat van die Covid-19-pandemie moet ons ongelukkig na volgende jaar kyk om weer klubrugby tot sy glorie te kan herstel, maar sou dinge verander sal ons wel gereed wees om aan te pas.”

Die Boland-rugbyunie sal nou samesprekings met die spelers se verteenwoordiger, My Players, hê om oor die pad vorentoe aangaande hul salarisse en ander voordele te besin, het die unie aangevoer.

Dit word gedoen om ’n skikking, wat tot voordeel van die spelers en die unie is, te kan bereik.

“Die Boland-rugbyunie wil dit beklemtoon dat sou toestande dit toelaat, daar by die vroegste geleentheid ’n vergadering met die klubs belê word om sodoende die pad vorentoe te bespreek,” het Pekeur afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article