Die Pearl Mansion-woonstelkomitee het eksamenpakkies aan matrikulante van die gebied geskenk om hulle aan te moedig om hart vir die komende eksamen te leer.Foto: David Rossouw


Die nuutgestigte Pearl Mansion-woonstelkomitee, wat gedurende die inperking tot stand gekom het, het Sondag 1 Oktober eksamen-bystandpakkies aan matrikulante van dié gebied oorhandig.

Volgens Jerome Titus, voorsitter van die komitee, is die idee om matrikulante aan te moedig om hulle beste te lewer in die 2020-eindeksamens wat op 5 November begin het.

Die eksamenpakkies het maskers, handreiniger, skryfbehoeftes, ’n vrugtedrankie en ’n persoonlike aansporingsboodskap ingesluit.

“Ons weet dat julle weens die Covid-19-pandemie onder moeilike omstandighede vir die matriekeksamen moet voorberei, maar ons wil vir julle sê dat ons glo dat julle suksesvol in die eksamen sal wees,” het Titus aan die matrikulante gesê.

Volgens die komiteelede is die doelwit van die organisasie om die sosiale omstandighede van inwoners in die woonstelle te verbeter, daarom is hulle in die proses om as ’n organisasie sonder winsbejag te registreer.

Die matrikulante het die komitee vir die goeie inisiatief bedank en het belowe om onder die omstandighede net hul beste te doen en wil ook inwoners en ouers trots maak.

Ouers en inwoners het die komitee geloof vir die goeie gebaar en wat hulle tans doen om die omstandighede van inwoners te verbeter. Volgens Titus word meer projekte vir die toekoms beplan, maar eers as hulle amptelik as ’n organisasie sonder winsbejag geregis­treer is. Hy bedank ook die donateurs.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article