Dmitri Brewel kort voor sy dood by die Atlantis-polisieselle.


Is hy doodge­slaan?

Dít is die vraag wat aan die pa van Dmitri Brewel (24) soos kanker vreet. “Ek wil net weet waarvan of waaraan is hy dood,” sê die pa, Dean Brewel, met trane wat vlak lê.

Hy vertel Dmitri is Saterdag 22 Februarie deur die polisie in hegtenis geneem vir handel in dwelms waarna hy nie weer sy kind lewend gesien het nie.

“Ek moes my kind se liggaam in die oggendure by Atlantis-polisiekantoor se selle gaan uitken nadat hy volgens die polisiebeamptes aan asemhalings­pro­bleme beswyk het. My kind was blakend gesond toe hulle hom opgetel het,” meen die pa.

“Hoekom was sy gesig so geswel,’ wil hy weet.

Dean bieg Meaty, soos Dmitri bekend was, was geen engel nie, maar was beslis nie ’n bendelid nie.

Dean vertel polisielede het glo by die uitkenning van die liggaam aan hom gesê Dmitri het gesukkel om asem te haal en is na Wesfleur-hospitaal geneem.

Die hospitaal het Dmitri glo kort na die behandeling ontslaan waarna hy in polisieaanhouding beswyk het.

“Iets klink nie reg nie, want hy was ’n gesonde kind hoewel hy dwelms gebruik het,” meen Dean. ’n Gevangene wat glo saam met Dmitri in die selle was, het vir Dean vertel hoe die polisie lekker appels geswaai het en die pa sê sy seun se gesig was duidelik geswel.

“Op die dood­sertifikaat staan hy is aan onna­tuurlike oorsake dood. Dit laat my baie wonder,” sê Dean.

Natalie Watlington, woordvoerder van die departement van gesondheid, het aan Weskus Nuus verduidelik Dmitri was by die plaaslike hospitaal vir behandeling en is in ’n stabiele toestand terug aan die polisie besorg.

Volgens kapt. Cyril Dicks, plaaslike polisiewoordvoerder, is ’n geregtelike nadoodse ondersoek ingestel.

Intussen het die gesin regshulp gekry. Kim Carlse, regsverteenwoordiger van die familie, het bevestig sy is besig om die voorval te ondersoek en sal sy die familie daarvolgens adviseer.

Sy sê die uitslag van die lykskouing is baie belangrik vir die familie om berusting te kry en sal, na aanleiding van dié verslag, oor verdere optrede besluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article