Die pa wat vermoedelik sy dogter oor jare verkrag het, het Dinsdag borgtog van R1 000 gekry.
Die 63-jarige verdagte het op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, seksuele voorbereiding en onsedelike aanranding verskyn.
Die beskuldigde het glo sy dogter reeds vandat sy 12 jaar oud is, seksueel misbruik. Familielede van die slagoffer, wat nou 36 jaar oud is, het glo met die sak patats vorendag gekom.
Volgens ’n anonieme brief in Weskus Nuus se besit het alles vir die slagoffer begin toe sy haar ma op 12-jarige ouderdom verloor het.
Haar pa het haar glo as sy seksslaaf voorberei en gedreig sy en haar broers en suster gaan nie meer ’n pa of ’n huis hê om in te woon as sy praat nie. “Hy het altyd seker gemaak niemand is by die huis nie of almal slaap al voordat hy seksueel met sy dogter verkeer het. Hy het haar ook in haar kinderjare verseker dit is ’n ‘spesiale band’ tussen pa en dogter,” volgens die bron.
Kommer heers onder aktiviste dat die beskuldigde op slegs R1 000 borgtog vrygelaat is. Volgens aktivis Donnae September is dit belaglik dat die beskuldigde op so klein bedrag borgtog vrygelaat is en sê die landdros kon hom [netsowel] “maar sonder borgtog uitgelaat het”.
“Ek wonder of hulle die trauma wat sy moes deurmaak, in ag geneem het. Die regstelsel moet regtig slagoffers se omstandighede in ag neem,” meen sy.
Sy glo die staat sal kan bewys dat die pa die beweerde dade gepleeg het.
Die saak is tot Dinsdag 28 Maart uitgestel.





