Drie senior burgers van die berugte Dura-woonstelle het besluit genoeg is genoeg en self hul gebied begin mooi maak.
Volgens James Witboy (70) het alles een oggend begin waar hy by ’n bushalte gesit het.
“Ek het die Maandagoggend (17 April) so na die gebied, wat eens mooi geplavei was, gekyk, maar dit is stukkie vir stukkie deur tikkoppe weggedra. Die stukkie veld was nou net ’n vaal stuk grond, en ek het daar en dan besluit om ’n verskil te maak,” vertel hy opgewonde.
Hy het nie sy eie gereedskap gehad nie, maar het die vaal grond met ’n geleende graaf en hark begin bewerk, vertel dié pensioentrekker van Eagles Nest.
Gerald Grey (72) en Henry Soldaat (70) het nadergestaan en saam het die span die grond begin bewerk. William Grey (54) het ook later by die drie aangesluit.
Die span vertel hulle het by inwoners aangeklop vir plante en na verskeie skole en organisasies geloop vir hulp.
Die trotse span het aan Weskus Nuus vertel Atlantis kry baie besoekers en “die hoofpad kan mos nie só lyk nie”.
“Baie mense wil ons net oordeel omdat ons in Dura woon, maar hulle vergeet die Dura-woonstelle het reeds dokters, onderwysers, polisiebeamptes, ingenieurs en ook ’n raadslid opgelewer,” vertel hy.
Volgens Oom James is nie almal in die gebied bendelede nie en word hul buurt meer deur inkommers oorheers.
Die drie vertel ook trots dat hulle nog lank nie klaar is nie.
“Ons beplan om nog bankies en gras hier te sit, waar mense lekker kan kuier. Ons wil ook graag ’n heining span om die honde uit te hou, want baie kere word ons handewerk deur die diere verniel,” vertel die trio.
Hulle sê hulle het reeds die wykraadslid Moosa Raise vir bystand genader.


