’n Egpaar van Melkbosstrand wat aanklagtes van verkragting, mensehandel, aanranding en die besit van dwelms in die gesig staar se borgtogaansoek gaan môre (Woensdag 13 November) in die Atlantis-landdroshof voort.
Die getroude paartjie wat onlangs deur ’n spesiale eenheid van die polisie aangekeer is het Dinsdag (12 November) formeel om borgtog aansoek gedoen. Hulle het twee minderjarige kinders. Die ouerpaar se regsverteenwoordiger het beëdigde verklarings in die hof voorgelees wat glo later gaan bewys dat die klaer in die saak ’n “duister motief” en “kennisse in die onderwêreld” het.
Volgens die verklaring wat voorgelees is in die hof beweer die klaer dat die man wat ook haar werkgewer was, haar, sowel as sy eie kinders, verkrag en mishandel het. Die klaer het ook beweer dat die eerste insident in buiteland gebeur het. Die man se verklaring het gemeld dat die klaer oral saam met die familie gereis het om na die kinders om te sien en sy haar salaris op tyd gekry het.
Die verdediging het ook ’n verklaring van die klaer se suster voorgelees wat die oë laat rek het. Volgens die suster van die klaer is haar suster onstabiel en betrokke met bedrieglike aktiwiteite. Bure van die verdagtes se verklarings is ook voorgelees waarin die paartjie beskryf word as twee liefdevolle ouers wat ook omgee vir die kinders in die omgewing waar hulle bly.
Die hof het die saak uitgestel tot Woensdag wanneer die vrou se verklaring voorgelees sal word. Die verdagtes bly in aanhouding. Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale vervolgingsgesag (NVG) kan die paartjie nog klagtes in die gesig staar en het hy bevestig dat die staat borg gaan teenstaan.





