Die skool se voormalige hoofde Pieter Februarie (vierde) Russell Andrews (derde) en die huidge skoolhoof, Ruben Abels (vyfde).Foto: David Rossouw


Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het geen ander keuse gehad nie as om na die gemeenskap se begeerte te luister om ’n nuwe laerskool in Mamre te bou.

Die pleidooie vir ’n nuwe skool het gekom nadat die bestaande Morawiese Sending-laerskool op die kerkterrein in die 1990’s weens die hoë getal leerders uit sy nate gebars het.

Drie jaar later het hulle ’n nuwe skool gekry.

Vanjaar vier dié “nuwe” skool sy 30ste bestaansjaar met geleenthede wat in April en Mei deur ’n feeskomitee gedryf word.

Herbert Smith, die eerste skoolhoof van Mamre Primêr, is ná sy aftrede deur Clement Alexander, ’n Mamre-boorling, opgevolg.

Pieter Februarie, ook van Mamre, het in 1983 as vlak 1-opvoeder by Mamre Morawiese Primêr begin en is later in 1994 as adjunkhoof aangestel.

Februarie het later tussen 1998 en 2002 as skoolhoof waargeneem weens Alexander se gesondheidsuitdagings, waarna Russell Andrews as die derde skoolhoof aangestel is.

Andrews het kort daarna, in 2004, die onderwys verlaat en is in Februarie weer as waarnemende skoolhoof aangewys totdat hy in 2006 as permanente skoolhoof aangestel is. Hy het in hierdie posisie gedien tot sy aftrede op 28 Februarie 2021.

“Nieteenstaande voortdurende veranderinge in die onderwysstelsel, bly ons leerders se akademiese sukses die primêre fokus van ons skool. Beide onderwysers en leerders is onder enorme druk om te presteer in die lig van massiewe administratiewe rompslomp, wat deur die wysigings veroorsaak word,” sê Februarie.

“Aangesien dit duidelik geword het dat die departement nie sy verbintenis tot die oprigting van ’n hoërskool in Mamre sou nakom nie – nadat ons in 1998 opdrag gegee het om die kurrikulum na graad 8 en 9 uit te brei – is die graad 8- en 9-programme in 2012 gekanselleer,” verduidelik hy.

Hoogtepunte in die skool se geskiedenis was ongetwyfeld toe die o.13-rugbyspanne die geleentheid gekry het om na die Verenigde Koninkryk te reis. In 1999 en 2012 is groepe weg om daar te speel. Gedurende die twee weke lange toer het hulle teen Engelse (Midlands en Oxford) en Walliese skole meegeding en uitstekend presteer.

“Die frase ‘jou kind is my kind’ moet gehandhaaf word sodat ons jongmense veilig voel in die gemeenskap,” meen Reuben Abels, die huidige skoolhoof.

Volgens Abels word die skool se etos, kultuur en sterk waardestelsel asook sy leuse “Kennis Oorwin,” waardeer deur vorige leerders, atlete en gemeenskapsleiers, wat die instelling uniek maak.

Abels het in Januarie 1997 by Mamre Primêr begin skoolhou en in Februarie 2021 die skool se vyfde skoolhoof geword. Hy is ook ’n uitmuntende sportadministrateur. Deur die meeste van sy 28 jaar as sportkoördineerder het hy atlete soos Morne Liebenberg, Trevino Passens, Denzil Adonis en vele meer ander onderrig. Die jongste groep WP- en Wes-Kaapse atlete wat die skool trots gemaak het, sluit Lizen Roberts, Tylo Hess, en Zia Jansen in.

Die geskiedkundige verjaarsdagviering sal volgens Verna Liedeman, ’n onderwyser en ’n feeskomitee-koördineerder met vieringe in April en Mei herdenk word.

Die gemeenskap is uitgenooi om die skool te besoek en onder meer aan die sportdag en karaoke (22 April), leerders-skoolpartytjie (26 April), Mnr. en Mej. Mamre Primêr (28 April) en die Keer terug skool toe-dag (5 Mei) te kom geniet. ’n Karnaval sal die naweek van 12-13 Mei gehou word.

Op Sondag 21 Mei is daar ’n gedenkdiens, kranslegging, aandete en ’n seremonie ter ere van oud-leerlinge, onderwysers en personeel. Meer as 550 leerders word daagliks met WKOD-befondste busse tussen Atlantis en Mamre vervoer, en nog ander word privaat na Melkbos, Malmesbury, Milnerton en baie ander skole buite Mamre vervoer. Die hoop van die skool-gemeenskap is nou dat die WKOD nou ’n besluit sal maak om die langverwagte hoërskool te bou ná die dorp se pleidooi van meer as 60 jaar noudat die laerskool 30 jaar oud is en ook die hoë buskoste van meer as 25 jaar.

. Vir meer inligting oor die verskeie vieringe kontak Liedeman by die skool by 021 576 1115.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article