Die voormalige rugbyafrigter van Mamre wat hom as ’n dokter, fotograaf, modelagent, fiksheidsinstrukteur en lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en dan sy slagoffers verkrag het, het weer Dinsdag 2 Februarie in die Atlantis-streekhof verskyn.
Slagoffers, familie en vriende is hewig omgekrap omdat die saak weer uitgestel is en wou weet hoekom die verhoor nie kan begin nie.
Volgens familie sou die verhoor hierdie week begin het nadat die staat aangedui het die ondersoek is voltooi.
Volgens Daphne Whittaker van die Community Intervention-sentrum in Tableview, wat traumabehandeling aan verkragtingslagoffers bied, ondersteun die slagoffers in die saak.
Die groep van die sentrum het tydens hofverrigtinge ook morele ondersteuning aan die slagoffers en hul geliefdes gebied.
Volgens ’n bron na aan die ondersoek is die saak nou tot 18 Maart uitgestel sodat die staat sekere dokumente aan die verdediging kan oorhandig.
Die 46-jarige verdagte is op 25 Maart 2020 by die werk aangekeer.
Die polisie het op sy persoonlike en werksrekenaar beslag gelê.
Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met statutêre verkragting, verkragting en die vervaardiging van pornografie en kinderpornografie.
Hy is op 14 April 2020 borgtog van R10 000 toegestaan en is streng borgtogvoorwaardes opgelê – een daarvan is dat hy daagliks by die Atlantis-polisiekantoor moet aanmeld.




