Die orkes van Smile-produksie wat in Junie 2019 gestig is, se doel is om jong mense bewus te maak van die voordele wat musiek vir hulle kan inhou.
Só meen die groepleier Wilfred Smile nadat die musikante onlangs verskeie konserte in Atlantis en omliggende gebiede gehou het.
“ ’n Goeie boek of fliek kan jou ook wegvoer, maar daar is ’n unieke krag in ons reaksie op musiek. Dis omdat musiek jou dieper raak as ander soort kunste,” sê dr. Valorie Salimpoor, ’n neurowetenskaplike wat die afgelope 10 jaar die uitwerking van musiek op die brein bestudeer.
Smile sê die konserte is goed deur inwoners ondersteun. “Nie net oor die goeie musiek nie, maar omdat hulle ’n behoefte na musiek het.”
Tydens die konserte is Covid-19- inligtingsessies ook met die verskillende gemeenskappe gedeel om hulle bewus te maak van die gevare en hulle te herinner dat daar steeds by die regulasies gehou moet word, want die pandemie is nog nie verby nie.
“Kinders en inwoners is ook by elke optrede met kos en geskenkpakkies bederf om te wys dat ons omgee,” verduidelik Smile.
Die musiekkonserte is moontlik gemaak deur Saxonworld Engen Garage, Simunye Spaza Shop, Magnolia Foodfair, Sha Zah Roadhouse, AN2 Refrigerators, Saligee Printing, CM Images en Alfred Fruits.
Die orkes van Smile-produksie beoog om in Desember ’n toer na Port Elizabeth te onderneem. Vir dié rede moet daar geld ingesamel word. . Organisasies wat gebruik wil maak van die orkes, kan Ilze Smile by 061 061 7601 bel of ’n e-pos stuur na ilzeortell@gmail.com.


