Personeel en inwoners van Orion in Atlantis het Dinsdag 8 Maart die organisasie se 40ste bestaansjaar gevier.
Meer as 40 ballonne is by die geselligheid losgelaat as simbool vir hul bydrae tot die gemeenskap.
Die Wilge, soos dit voorheen bekend gestaan het, is in 2018 Orion-kinderdagsorgsentrum hernoem. Die sentrum help mense met verskillende gestremdhede daagliks met ’n verskeidenheid vaardigheidsontwikkelings- en gestruktureerde programme, wat op die perseel aangebied word.
Die plaaslike wyksraadslid Allister Lightburn het gaste toegespreek en die personeel en die inwoners bedank “omdat hulle Orion altyd eerste stel”.
Hy meen Orion se sukses kom van die bydraes van die personeel, inwoners en maatskappye wat die organisasie ondersteun. Orion hou Saterdag 26 Maart ’n groot makietie met ’n karnaval op die perseel.
Geld wat dié dag ingesamel word, sal help met die hoë bedryfskostes, het Gerrit Matthyse, die uitvoerende hoof, gesê. Inwoners en organisasies word genooi om Orion op dié dag te kom ondersteun.
Inwoners sal die geleentheid kry om kennis te maak met die stigterslede, het Matthyse gesê.




