Verskeie organisasies en gemeenskapsleiers het by die Cape Town Drug Counselling-sentrum vergader om samewerking te verbeter Foto: Murphy Roberts


Cape Town Drug Counselling-sentrum het Woensdag, 16 Oktober met verskeie organi­sasies en belanghebbendes in Atlan­tis ontmoet om samewerking onder mekaar te verbeter.

Volgens Janet Smit, van dié sentrum, kommunikeer verskillende organisasies nie altyd doeltreffend met mekaar of is selfs nie eers bewus van mekaar nie. Die gevolg is sekere dienste word gedupli­seer of selfs dat persone wat hulp benodig nooit gehelp word nie.

By die vergadering het die groep be­sluit organisasies het ’n sentrale punt van kommunikasie nodig.

In 2020 word daar beoog om ’n opedag te hou waar verskeie organisa­sies mekaar kan ontmoet en waar die gemeenskap kan sien watter organisasies wel bestaan.

“Kwartaallikse vergaderinge vir die organisasies sal gehou word wat deur die sentrum gereël gaan word,” sê Smit.

By dié vergaderings sal die fokus op samewerking geplaas word.

Daar word ook beplan om ’n gemeenskapskalender saam te stel waarop al die beplande aktiwiteite van die verskillende organisasies geplaas kan word.

Hierdie kalender sal dan beskikbaar gestel word aan die publiek sodat almal kan weet wat in dié dorp gaan gebeur.

Al die organisasies in en om Atlantis word genooi om deel te neem aan hierdie inisiatief.

“Indien jy betrokke wil raak, kan mense inligting van hul organisasie na my by Cape Town Drug Counselling-sentrum neem of stuur,” sê Smit.

Sy sê organisasies en kontakbeson­derhede op die sentrum se databasis geplaas word sodat almal na toekom­stige byeenkomste genooi kan word.

Sy meen saam kan organisasies ’n verskil maak. Enigeen met vrae of voorstelle kan Smit bereik by janet@drugcentre.org.za of 021 571 7180.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article