“Atlantis-polisiekantoor moet ’n deep clean ondergaan – nie vir die koronavirus nie, maar van korrupte polisiebeamptes.”
Só meen Jasmian de Klerk, ’n 32-jarige vrou van Atlantis en ma van ’n agt maande oue baba wat, volgens haar, onregmatig in hegtenis geneem is.
De Klerk en haar tweelingbroer is verlede Sondagaand in hegtenis geneem vir oproerige gedrag.
De Klerk het aan Weskus Nuus vertel sy is onder meer deur ’n polisieman met die kop gestamp omdat sy bekommerd was oor haar baba en gesê het hy word steeds geborsvoed. Die polisiebeamptes het ook glo aan haar gesê hulle gaan hom (haar baba) “weer terugdruk na waar hy uitgekom het”.
“Ek het die polisieman gesoebat dat my kind nie sonder voeding kan slaap nie en ek is toegelaat om my baba in die vuil polisieselle te voed.
“Ek het alles probeer om by my baba te wees en my prokureur is elke keer op ’n dwaalspoor gesit as hy telefonies ’n nag-hof wou reël,” vertel sy.
De Klerk sê hulle het nooit in die hof verskyn nie, maar is ná drie dae by die hof se agterhekke uitgelaat.
“Wat my bitter maak, is dat ek moes sukkel om ’n saak aanhangig te maak teen die polisiebeamptes nadat my oorspronklike dossier verdwyn het,” vertel De Klerk.
Ná meer as ’n week van wag op ’n saaknommer, sê De Klerk, is sy elke keer gesê die saak is reeds na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (opod) verwys.
Weskus Nuus het egter na ’n ondersoek ontdek daar is nooit ’n saak teen die polisiemanne wat haar glo aangerand het en gedreig het aanhangig gemaak nie. De Klerk sê sy is vasbeslote om die “skurke te laat boet” en het maar weer ’n verklaring gaan aflê, drie weke later het sy ’n saaknommer ontvang.
De Klerk sê sy gaan ook die saak by die Menseregtekommissie aanmeld.
“Die president sê vroue en kinders moet beskerm word, maar die skurke is dan reg onder hul neuse,” het ’n woedende De Klerk gesê. Sy vertel dieselfde polisieman wat haar suster verlede jaar na bewering vyf keer geskiet het nadat sy hom wou konfronteer oor sy skietery in die woonstelle, het geen geheim gemaak dat hy nie sal skroom om haar ook te skiet nie aangesien hulle in elk geval “niks oorkom nie”.
Kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisie se woordvoerder, het bevestig ’n klag van aanranding is ontvang. “ ’n Vroulike polisielid word ook intern ondersoek.”


