Onwettige vuurwapens hou ’n groot gevaar vir die gemeenskap van Atlantis en omliggende gebiede in.
Dit is die gevoel van die plaaslike polisie.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, word vuurwapens in die meeste van die moorde en gewapende rooftogte hier gebruik, en daarom werk die polisie hard om dit uit die strate te kry. Munro sê die poilisie het oor die jare baie sukses behaal om vuurwapens uit die strate te kry en dit word deur die polisie vernietig sodra hul ondersoek afgehandel is.
Munro meen die polisie is ook baie afhanklik van die gemeenskap vir inligting en in die meeste gevalle kom wenke wel uit die gemeenskap.
Dit is juis inligting van inwoners in Mamre wat lede van die misdaadvoorkomingseenheid onlangs na ’n onwettige vuurwapen gelei het. Volgens Munro is die onwettige vuurwapen Dinsdag 5 Maart in Thornelaan gekry. ’n Verdagte (20) is aangekeer nadat mense met die vuurwapen gedreig is.
Die waarnemende stasiebevelvoerder, lt.kol. Theresa Reeves, het die gemeenskap bedank vir hul bydrae om hul gebied veiliger te maak en het inwoners aangespoor om die polisie se hand te versterk om Atlantis en omliggende gebiede veiliger te maak.
Munro sê wettige vuurwapens moet in ’n kluis toegesluit wees, met slegs die eienaar wat toegang tot die kluis het.
Vuurwapens wat die eienaar by hom of haar dra, moet in ’n holster aan die eienaar se liggaam vas wees, en só iemand moet ten volle in beheer daarvan wees.
Mense wat ’n vuurwapen wettig wil besit, sal eers die nodige opleiding van ’n gesertifiseerde wapenhandelaar of opleidingsbeampte moet kry, sê Munro.
Sodra só iemand die geskikte opleiding suksesvol voltooi het, kan hulle by die naaste polisiestasie vir hul lisensie aansoek doen.
Volgens Munro moet eienaars ongeveer drie maande voordat hul lisensie sou verval, aansoek doen om dit te hernu. ’n Vuurwapenlisensie is vir twee tot tien jaar geldig, afhangende van die soort lisensie wat toegestaan is. . Inwoners wat inligting oor onwettige vuurwapens met die polisie wil deel, kan 08600 10111 skakel; inligting kan anoniem deurgegee word.





