Atlantis-krieketklub (Baggy Blues) het Saterdag 25 Januarie sy geleentheid om nader aan die eerste plek op die punteleer te kruip deur sy vingers laat glip toe die span op sy tuisveld teen Bellville vasgeval het.
Die besoekers wat eerste gekolf het, het ’n goeie 221/5 lopies in sy toegelate 50 boulbeurte behaal. Die Baggy Blues moes 222 lopies teen 4.4 lopies per boulbeurt kry vir ’n oorwinning. Justin Rooibaadjie (21) en Kurt Julius (48) het moedig probeer. Die tuisspan het danksy goeie bydraes van die middelorde te stadig gekolf en kon egter net 207/9 in sy 50 boulbeurte kry – 15 lopies kort vir die oorwinning.
Baggy Blues, wat voor die wedstryd sy eerste twee wedstryde van die jaar gewen het, is steeds tweede op die punteleer. Volgens Johannes Herman, kaptein van Baggy Blues, pluk die span nou die vrugte van hul ontwikkelingsplan en is daar baie jong spelers wat potensiaal toon. Die span speel eerskomende Saterdag weer tuis teen Blue Downs en sal wil vergoed vir die afgelope naweek se nederlaag.
Die span se naasbestes het Saterdag op sy tuisveld die besoekers van Belhar met 50 lopies geklop. Die tuisspan het eerste gekolf en was almal terug in die kleedkamer vir 149 lopies met Elton Lackay wat met sy 56 lopies die beste met die kolf gevaar het.
Die tuisspan se boulers met die veteraan Marius Appollis aan die spits, het die besoekers almal uitgeboul vir 98 lopies vir ’n oorwinning van 50 lopies. Appollis het vier paaltjies ingeoes en slegs 15 lopies afgestaan.
Die naasbestes reis komende naweek na Cravenby.


