Die beplanning om ’n plaas langs Silwerstroomstrand in ’n kusdorp te ontwikkel, is besig om momentum te kry.
Kevin Momberg, ’n voormalige raadslid in die oorgangsraad van die eens Blaauwberg-munisipaliteit, het aan Weskus Nuus bevestig die eienaars van die plaas Springfontein, is besig om met al die rolspelers te vergader oor hul planne.
Die plaas van sowat 1 200 hektaar is geleë tussen Silwerstroomstrand en grens aan die Koeberg-kragstasie.
Deel van die Springfontein-ontwikkeling behels gemengde behuising, ’n hotel, winkelsentrum, restaurante en al die nodige geriewe wat die ontwikkeling ’n topklas-trekpleister sal maak.
Dié omgewing is ’n natuurbewaringsgebied en dus word gereelde gesprekke tussen die eienaars en die Stad Kaapstad gevoer om ’n balans te kry vir die natuurbewaring en ekonomiese ontwikkeling.
Momberg voer ook aan dat die ontwikkeling ’n groot ekonomiese hupstoot sal wees vir die gebied veral Atlantis, Mamre, Witsand en Pella.
“Die Springfontein-ontwikkeling kan baie van ons mense se lewens verander en die sosiale probleme aanspreek,” meen Momberg, en voeg by “die Stad is besig om die bestaande distriksplan vir Atlantis te hersien – wat ’n stap in die regte rigting is, want dit bepaal eintlik die ekonomiese ontwikkeling vir die gebied.”
Volgens Momberg het die eienaars onderneem om die plaaslike gemeenskap te betrek by die ontwikkeling en werksgeleenthede.
Die Atlantis-sakekamer is geïdentifiseer om ’n databasis op te stel van alle beskikbare arbeid en dienste in die gebied wat die eienaars kan gebruik om geleenthede te bied.
Volgens Michael Marote, voorsitter van die Atlantis-sakekamer gaan hulle opheffingsprojekte identifiseer en voorlê vir finansiering uit die opbrengs van die ontwikkeling vir omliggende gebiede.
“Ons is opgewonde oor dié projek wat met beide hande deur die gemeenskap aangegryp moet word,” het Marote gesê.




