Die vredesbeamptes wat vroeër uit Atlantis onttrek is, sal ná laas week se massaskietery na verwagting terugkeer na die gebied.
Dit kom nadat die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid en die Stad Kaapstad besluit het om ongeveer 44 vredesbeamptes (Leap officers) aan die dorp te onttrek.
Dit terwyl dit daagliks soos “Guy Fawkes” klink en die strate met bloed bevlek word.
Volgens kol. Mario Thyse, die stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, is die onttrekking van die kosbare mannekrag en hulpbronne ’n reuseterugslag vir die polisie in hul stryd teen misdaad.
’n Betroubare bron het aan Weskus Nuus bevestig dat die vredesbeamptes reeds meer as ’n maand gelede onttrek is om in ander gebiede te herontplooi. Die bron het verklap dat vier skofte van 11 lede per skof onttrek is.
Weskus Nuus het reeds oor meer as tien moorde berig sedert die onttrekking van die lede en ook verskeie voorvalle van poging tot moord. Volgens Thyse moet hulle maar die beste van die slegste maak.
“Atlantis het slegs enkele ongewapende beamptes van die meer as 1 000 lede wat sedert 2020 opgelei is wat hier ronddrentel en as boetebessies optree,” sê die bron.
Volgens die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig, Anroux Marais, is die ontplooiingstrategie verander nadat lesse geleer is met die oorspronklike ontplooiing. Marias het ook erken dat die meeste van die lede nou in gebiede werk om georganiseerde misdaad en afpersingsindikate wat gemeenskappe teister, proaktief te bekamp.
Marias het gesê die besluit is gemaak nadat ’n suksesvolle proeflopie in 2023 in Delft uitgevoer is – gegrond op die moordstatistieke, operasionele imperatiewe en die misdaadstatistieke wat vrygestel is.
Volgens Marias sal die ontplooiingsplan ná ses maande hersien word terwyl ’n reaksie-eenheid van 120 lede in Hanoverpark, Manenberg, Atlantis, Kraaifontein en Elsiesrivier sal bystaan.
Tans is die vredesbeamptes vir die proeftydperk in Delft, Khayelitsha, Phillipi-Oos, Nyanga, Mitchells Plain en Gugulethu herontplooi, waarna dit heroorweeg sal word.
Marias het egter ná die massaskietery op Woensdag 23 Oktober, waarin vyf mense afgemaai is, ’n ander deuntjie gesing en bevestig dat die lede weer na Atlantis sal terug keer.




