Inwoners het in hul hordes na die Sassa-kantoor gestroom nadat ongeskiktheidstoelae nie betaal is nie. Foto: Murphy Roberts


Baie begunstigdes van ongeskiktheidstoelae moes vroeër die maand droë mond omdraai toe daar geen uitbetaling was nie.

Inwoners het behoorlik gal gebraak omdat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) tydelike ongeskiktheidstoelae gestop het.

Sassa sê begunstigdes is in kennis gestel dat Desember se betaling die laaste sal wees en begunstigdes sal dan weer moet aansoek doen.

“Tydelike ongeskiktheids-toelae was reeds in Maart 2020 tot Desember verleng weens die Covid-19-pandemie,” verduidelik Henry de Grass van Sassa.

Allister Lightburn, proporsionele raadslid, sê hy het ingespring met vrywillige helpers om Sassa-amptenare te help met dié probleem.

Meer as 2 700 begunstigdes het intussen datums gekry.

Inwoners het nie van hul hart ’n moordkuil gemaak nie en meen Sassa moes beter beplan aangesien Januarie die maand is waarin baie sukkel.

Hulle meen kos is uit hul monde deur Sassa geneem.

Volgens Desiree Daniels van Robinvale het sy reeds 03:00 by die plaaslike kantoor opgedaag met die hoop om ’n datum vir indiening te kry – met byna 1 000 mense wat by die Sassa-kantoor opgedaag het om te hoor wanneer hulle hul geld gaan ontvang, met min vrees vir die koronavirus.

“Ons soek net ons geld, dis al,” was die mense se reaksie.

Volgens Lightburn het almal wat in die ry gestaan het nou datums ontvang en het Sassa ook aangekondig dat hulp aangebied sal word aan diegene wat “benadeel” is.

Lightburn sê voorts Sassa sal R500 aan mense betaal wat kwalifiseer vir hul toelae met die eerste kwalifiseerders reeds gehelp.

Volgens Nico Waggenstroom, wat help om te verseker Covid-veiligheidsmaatreëls word gevolg, gaan dinge baie beter en almal is bereid om te help.

Volgens De Grass, Wes-Kaapse bestuurder van Sassa, sou die kwessies nie uitgestryk kon word indien dit nie was vir die vrywilligers by die plaaslike kantoor nie.

Hy sê die Atlantis-kantoor sal weer volgende week in werking wees en sal meer mense vir die R500 gehelp kan word aange-sien hulle nou eers net 50 per dag kan help.

Chris Nissen, hoof van die Wes-Kaapse menseregte-kommissie, het bevestig dat Sassa die “versorger van die behoeftiges” is.

Nissen het ook onlangs antwoorde van Sassa geëis nadat begunstigdes vroeër vandeesmaand in Bellville by die Sassa-kantoor met waterkanonne bespuit is wat nie by die Covid-regulasies wou hou nie.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike dienste, het erken haar department moes ook vroeër gereageer het om die massastromings na Sassa- kantore te verhoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article