Ons sal alles doen om ons passasiers te beskerm.
So sê Mario Hansen van die Blaauwberg Public Taxi Association (BPTA) in reaksie op die voortslepende taxigeweld in die Kaapse metro en oor ’n stemboodskap wat op die sosiale platform WhatsApp versprei word van stakende taxi-bestuurders wat na die Atlantis-gebied gaan kom oor plaaslike taxi’s wat steeds pendelaars vervoer.
“Die oorsprong van die boodskappe word egter nog ondersoek,” sê lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris.
In reaksie op die boodskappe sê Mandla Hermanus van die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) dat misdadigers agter die dreigemente sit.
“Ons is bewus van die stemboodskap en dit kom nie van ons af nie. Dit is misdadigers wat gebruik maak van die twis tussen tussen Cata en Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta),” sê Hermanus.
Volgens Hansen raak die twis tussen taxi-organisasies glad nie die BPTA nie, omdat hul organisasie nog nie erken word nie.
“Ons is wel bedag oor wat kan gebeur en het ook ’n taakspan saamgestel wat elke oggend die strate van Atlantis in die vroeë oggendure patrolleer om pendelaars te beskerm,” sê hy.
Die stemboodskappe in Weskus Nuus se besit het tot groot paniek onder pendelaars gelei. Een van die boodskappe lui: “Taxi-eienaars in Atlantis kan nie geld maak terwyl baie taxi-eienaars tans niks inkomste het nie, daarom kom hulle na Atlantis om dit te stop.”
Mense in die bedryf spekuleer dat ’n aanslag op ’n taxi-eienaar van Witsand met die taxigeweld verband hou. Kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord nadat ’n 42-jarige man Dinsdagoggend 04:30 voor sy huis raakgeskiet is.
“Die man het sy voertuig aangeskakel toe onbekende mans op hom begin skiet het. Hy het na sy huis gehardloop en is in die bors en bene getref. Die verdagtes het te voet van die toneel af gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” lui ’n polisieverklaring.
Die polisie is tans op ’n gereedheidsgrondslag en daaglikse padblokkades word voortdurend in die gebied as deel van die polisie se misdaadvoorkomingsveldtog opgestel.


