’n Voormalige rugbyafrigter van Mamre, wat op vyf aanklagte van verkragting en die besit en vervaardiging van kinderpornografie aangekla is, se hofverrigtinge moes al begin het, maar sloer steeds.
“Dit is baie frustrerend vir die slagoffers,” kla Janine Passenz van Survivors Haven-stigting.
“Die verdagte word elke keer deur die landdros oor die vingers getik, maar intussen moet die slagoffers ly.”
Die verdagte het tydens ’n vorige verskyning op 17 November verlede jaar sy soveelste regsverteenwoordiger in twee jaar die trekpas gegee. Verlede maand – op 27 Februarie – moes die hof weer hoor die jongste prokureur is ook afgedank. Die saak is weer eens uitgestel.
“Die landdros het die verdagte op die dag gewaarsku dat sy verhoor sal voortgaan met die volgende verskyning met of sonder ’n regsverteenwoordiger, maar steeds gebeur niks,” vertel ’n omgekrapte Passenz.
Die landdros het haar vroeër vandeesmaand weer sterk uitgelaat oor die verdagte se gedrag en die versekering gegee die saak sal op 25 April verhoor word – met of sonder ’n prokureur.
“Wat my egter omkrap, is dat die slagoffers elke keer hoopvol by die hof opdaag, net om weer moedeloos huiswaarts te keer,” sê Janine.
Die verdagte het hom glo as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en glo sy slagoffers só geteiken. Hy is in Maart 2020 aangekeer toe ’n 16-jarige slagoffer alarm gemaak het.
Die verdagte het vroeër aangevoer die staat het geen bewyse nie. Hy is op 29 Julie 2022 weer aangekeer nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het.
Passenz het die hof gevra om “nie die bewyse te ignoreer nie” en met die slagoffers te konsulteer voordat op ’n vonnis besluit word. Sy sê die organisasie voel die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf moet oorweeg word “omdat die skade wat die verdagte die jong meisies aangerig het, altyd met hulle sal wees”.





