Gemoedere het hoog geloop by rdl. Barbara Rass se publieke vergadering Woensdag 23 Mei in die Uitbreiding 12-gemeenskapsaal.
Inwoners wou weet waarom die wyk se mense nie baat by die (Expanded Public Works Program) EPWP vind nie.
Volgens gemeenskapsleier, Allister Lightburn, kry dieselfde mense aanmekaar werk by die EPWP (Expanded Public Works Program), maar daar is nie werk vir die wyk nie, meen hy. Volgens Lightburn moet daar dringend ondersoek ingestel word na die EPWP-databasis en ook die persentasie van inwoners van beide wyke sodat gekyk kan word of die stelsel gemanipuleer word.
“Ons mense gaan agteruit en gebukkend onder armoede en werkloosheid in die dorp terwyl net sekeres voordeel trek,” sê Lightburn.
ANC-proporsionele raadslid (PR), Fiona Abrahams, het by die subraadvergadering 24 Mei behoorlik gal gebraak omdat sy sê dieselfde probleem is ook in Pella en ander gebiede.
Abrahams wou weet hoe die keuring gedoen word en wie verantwoordelik vir die aanstellings is. Sy sê dit is duidelik dat sekeres wel voorkeur geniet en het gevra vir ’n volledige ondersoek.
Wessie van der Westhuizen, subraad-bestuurder, het die lede van die vergadering verseker niemand geniet voorkeurbehandeling nie.
Hy sê die rekenaar sal ’n hoeveelheid name vir ’n projek gee en hulle handel daarvolgens.
Volgens Van der Westhuizen stel sekere afdeling van die Stad ook hul eie EPWP-werkers aan van hul eie databasis, maar het gesê hy sal die ondersoek verwelkom.
Malusi Booi nuwe DA PR-raadslid vir wyk 32, het die inwoners verseker daar is geleenthede vir almal en gemaan dat hulle daarvan gebruik moet maak.
Booi sê kontrakteurs wat groot kontrakte in die dorp kry moet kleiner kontrakteurs bemagtig deur die kontrak te deel.




