Dit is nie genoeg nie, “maar ons probeer hard om net die beste diens aan inwoners van Atlantis te lewer”, sê die nuwe polisiehoof, kol. Mario Thyse.
Thyse het reageer nadat Atlantis sewe nuwe polisievoertuie gekry het. Volgens Thyse is vier van die nuwe voertuie vir sigbare polisiëring terwyl die ander drie vir die speurders is.
“Ek wil egter die gemeenskap verseker dat ons ook streng gaan optree teen mense wat vals klagtes aanmeld omdat hulle die staat se tyd mors,” het Thyse gal gebraak. “Dit gebeur baie dat buite-eenhede dwelmhuise hier besoek sonder om ons in kennis te stel. Klagtes word teen plaaslike lede aangemeld wat gewoonlik dieselfde dwelmhuise besoek het,” vertel hy.
Thyse sê vals klagtes word aangemeld sodat lede kan wegbly van dwelmhuise, en het ook gewaarsku dat teen gewone lede uit die gemeenskap opgetree sal word wat vals inligting aan die polisie voorsien. “Ons is baie afhanklik van die gemeenskap en die inligting wat ons kry, is dikwels korrek, en daarom wil dwelmbase dit verongeluk,” verduidelik Thyse.
“Ek is bewus dat inwoners ook sukkel met die taalgrens hier. Dit is iets waaraan ek baie hard werk sodat inwoners gemaklik kan wees indien hulle klagtes wil aanmeld.”
Thyse het ook beklemtoon dat die polisie ongelukkig ’n taalbeleid toepas, maar inwoners kan verseker wees dat hulle nie geweier mag word om hul verklarings in hul moedertaal af te lê nie,” erken hy.
Aanvalle op die polisie sal ook nie geduld word nie, het Thyse beklemtoon.
“Die gemeenskap ontbied die polisie, maar val dan lede aan wat hul pligte wil uitvoer. Ons is hier om ’n veilige gemeenskap te bou, maar besef dat bendes en dwelmbase dit nie wil hê nie,” sluit Thyse af.




