Misdadigers wat Atlantis tans in ’n wurgklem gevange hou, se greep sal binnekort verslap.
Raadslid Allister Lightburn sê Atlantis kry 40 van die nuwe Law Enforcement Advancement Plan (Leap)-beamptes by om misdaad in die gebied vas te vat.
“Die ontplooiing van die beamptes kon nie op ’n beter tydstip gekom het nie – veral in die lig van die bendegeweld wat tans weer hoogty vier in die dorp” sê Lightburn.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê dis nou sy missie om die moordsyfers in bende-geteisterde gebiede te halveer.
Winde en Albert Fritz, die provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, het 232 nuwe wetstoepassers by die Muizenberg-opleidingskollege toegespreek. Hierdie nuwelinge gaan almal na verwagting teen middel Desember – net betyds vir die feestyd – in probleemgebiede in die Kaapse Metro ontplooi word.
Volgens Fritz is die wetstoepassers deel van Leap, wie se doel dit is om geweldsmisdaad te verminder.
Fritz sê die beamptes sal in gebiede soos Philippi-Oos, Samora Machel en Atlantis ontplooi word. “Dis om in die feestyd, wat nou begin, met veiligheid te help,” sê hy.
Winde sê die Wes-Kaapse regering se plan is om die jaarlikse moordsyfer van sowat 3 000 moorde in dié provinsie binne 10 jaar na 1 500 te halveer.
“Van die 152 polisiekantore in die provinsie word 50% van die moorde wat gepleeg word, by net 10 daarvan aangemeld,” sê hy. “So, as jy fokus op die 10 plekke waar die meeste moorde gepleeg word, sal die moorde drasties verminder kan word. In enige situasie waar jy ’n probleem wil verminder, fokus jy op die plek waar die probleem die grootste is.”
Winde sê die breë veiligheidsplan sluit ook maatskaplike dienste, onderwys, gesondheid en werkskepping in. Die ontplooiing van die nuwe rekrute in Desember sal na verwagting die getal wetstoepassers in die Leap-program op 1 000 te staan bring.
Sowat R1 miljard is sedert Maart 2020 deur die Wes-Kaapse regering aan hierdie veldtog bestee.


