Reuben Abels is onlangs aangestel as die nuwe hoof by Mamre Primêr waar hy sy loopbaan 28 jaar gelede daar begin het.Foto: Murphy Roberts


Hy is in Mamre gebore, het hier grootgeword en was ook ’n leerder aan Mamre Primêr – nou is hy die hoof van die skool waar hy 28 jaar gelede sy loopbaan as opvoeder begin het.

Reuben Abels, wat die afgelope agt jaar die adjunkhoof van die skool onder Pieter February, wat vroeër afgetree het, is onlangs aangestel as die nuwe hoof en begin sy pligte op 1 Oktober.

Volgens Abels is die grondslag vir gehalteonderrig reeds deur sy voorgangers gelê en kan hy net daarop voortbou. “Ek het my skoolloopbaan begin toe die nuwe skool sy deure 28 jaar gelede geopen het en my voorgangers, Clement Alexander, Russel Andrews, Pieter February, voormalige kollegas en huidige kollegas het ’n groot rol in my ontwikkeling as opvoeder gespeel,” sê Abels.

“Met tegnologie wat daagliks verander, moet ons as opvoeders ook tred hou met wat in die bedryf gebeur omdat dit ons ook raak. Ek het nie baie om by die skool te kan verander nie, maar ons kan wel baie byvoeg,” vertel hy.

“My visie vir die skool is om dit die baken van uitnemendheid vir ons kinders te maak en leerders en hul ouers moet trots wees om Mamre Primêr as hul keuse van skool te noem,” vertel hy.

Abels sê voorts die Covid-19-pandemie het ’n massiewe invloed op almal se lewe by die skool, maar die span streef daarna om weer die skool te wees wat mense aan sy hoë akademiese, buitemuurse en ko-kurrikulêre aktiwiteite geken het, sê hy trots.

Abels, wat passievol is oor sport, veral rugby, het in sy speeldae vir Hamlets gespeel en het ook afrigting daar gedoen. Hy is tans die hoofafrigter van Young Hearts en ook die voorspeler-afrigter van die WP se o.13-Cravenweekspan.

Abels is net voor die pandemie as hoofafrigter aangestel, maar kon nog nie sy verpligtinge begin nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article