Wesfleur-biblioteek het ’n nuwe era betree met sy 30ste bestaansjaar.
Só sê die biblioteekbestuurder, Diane de Beer. De Beer, wat sedert 2015 hoofbibliotekaresse is, sê sy beoog om nog veranderings aan te bring om die biblioteek meer toeganklik vir almal te maak.
Wesfleur-biblioteek het Maandag 30 September, ’n dag voor sy amptelike verjaardag, verskeie hooggeplaastes en boekwurm-inwoners na ’n seremonie genooi om dié spesiale geleentheid te vier.
De Beer sê die biblioteek het onlangs ’n tiener-afdeling gekry waar jong mense boeke kan geniet wat van toepassing op hulle is. Die plan is ook om ’n studieplek vir matrikulante te skep waar hulle kan studeer.
Sy het bygevoeg die biblioteek-personeel het ’n uitreikprogram na Witsand begin om ’n liefde vir lees te help kweek. ’n Deel van die program is ook om kinders tussen graad 1 en 5 te leer lees.
Subraadvoorsitter, Cynthia Clayton, het tydens haar toespraak gesê die raad sal geld bewillig om opgraderings by beide die Wesfleur- en Avondale-biblioteek moontlik te maak.
Talle inwoners het die biblioteek nóg 30 gelukkige jare toegewens.
Hulle meen al beïnvloed die internet hoe lesers inligting ontvang, sal boeke altyd ’n belangrike hulpmiddel bly.




