Nog verdagtes is vas vir die moord van Jordan Moore (16), die tiener wat Vrydag 6 November wreed dood is.
Inwoners het Dinsdag 17 November in hul massas by die plaaslike hof opgedaag nadat nog vier verdagtes aangekeer is vir dié tienermoord. Dit nadat twee mans reeds vasgetrek is in verband met die seun se dood.
Volgens Jordan se oupa, John Hulbert, het sy kleinseun by sy neef gekuier en het saam met dié familielid en nog ’n vriend in die park gesit toe twee mans hulle glo met ’n vuurwapen gedreig het om vir hulle bier by ’n sjebeen te gaan koop.
Liza Munro, Atlantis-polisiewoordvoerder, sê die vermoede is dat die mans honde op die jongspan gesit het en die maats het in verskillende rigtings laat spaander. Die ander twee seuns het weggekom en hulp gaan soek.
Met hulle terugkeer na die toneel, ’n oop veld in Rietsangerlaan, was Jordan reeds dood. Sy het bevestig ’n sewende verdagte is ook in verband met Jordan se dood aangekeer.
Terwyl inwoners steun vir die Moore-familie toon, gaan die sinnelose moorde in Atlantis egter voort. Rezaq Kader Neptune Castle (26) is Saterdag 14 November in die vroeë oggendure in Grosvenorlaan, Saxonsea doodgeskiet.
Volgens Munro is Kader in sy motor deur die nek geskiet en het aan sy wond op die toneel gesterf. Die 20-jarige Keyaamodien Gordon, van Dartes Place in Dura-woonstelle, is Saterdag 15 November dood nadat hy in die bors gesteek is. Gordon is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Geen verdagtes is nog in verband met die twee moorde aangekeer nie.
Intussen is die saak teen die vier verdagtes in Jordan se moordsaak tot Donderdag 19 November uitgestel.
Jordan is Saterdag 21 November begrawe.


