Ten spyte van ’n reddingsboei van R254 miljard van die staat is daar steeds geen lig aan die einde van die Eskom-tonnel nie.
Die Eskom-woordvoerder Sikonathi Mantshantsha het in die afwesigheid van ’n minister van elektrisiteit, wat steeds nie aangestel is soos deur die president belowe nie, gesê fase 7-beurtkrag is vir spitstye saans ingestel.
Die kragreus se uitvoerende hoof, André de Ruyter, wat einde Maart sou klaar maak, is deur die raad gevra om onmiddellik te gaan nadat hy skokkende onthullings in ’n onderhoud gemaak het.
Suid-Afrikaners wag nou op hete kole om te sien of die regering gebeurlikheidsplanne vir fase 8-beurtkrag sal instel. Fase 8-beurtkrag beteken kragonderbrekings van 12 ure per dag. Dit kan ook daartoe lei dat die helfte van die Kaapse Metro op enige gegewe oomblik sonder krag kan sit.
“Die land se amptelike opposisie is egter omgekrap oor die toenemende tekens dat Suid-Afrika in die komende weke na fase 8-beurtkrag – en hoër – opgegradeer kan word,” sê Ghaleb Cachalia, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings.
Cachalia meen die ekonomie steier reeds “van die verwoestende impak van tot ses verkillende fases van beurtkrag”.
Eskom het intussen bevestig hy is besig om ’n beurtkragrooster vir fase 8-beurtkrag en hoër op te stel.
Die begroting was egter nie net op die kragkrisis gefokus nie. Die R1,35 triljoen wat aan maatskaplike dienste toegeken moet word, sal as volg bestee word:. Basiese onderwys sal die grootste deel van die begroting ontvang – R293,7 miljard.. Studente wat die Nasionale studente- finansiële hulpskema (NSFAS) ontvang, sal uit die pot van R50,1 miljard trek. Universiteite (R45,1 miljard) en tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding (R13,3 miljard) sal ook miljarde ontvang.. Die R259,2 miljard wat aan die gesondheidsektor toegeken word, sal verdeel word onder distriksgesondheidsdienste (R113,1 miljard), sentrale hospitaaldienste (R48,6 miljard), provinsiale gesondheidsdienste (R40,2 miljard), die bestuur en instandhouding van fasiliteite (R11,3 miljard) en ander dienste (R48,1 miljard).. Gemeenskapsontwikkeling het ’n begroting van R259,7 miljard vir die volgende boekjaar. Munisipaliteite sal R96,5 miljard vir die munisipale billike aandeel ontvang. Die afdeling menslike nedersettings, wat staatsbehuising, projekte vir water- en elektrifiseringsprogramme verskaf, sal die R61,7 miljard tussen projekte verdeel – R53,2 miljard sal vir die openbare vervoersektor gaan, terwyl R48,2 miljard aan ander menslike nedersettingsprojekte en munisipale infrastruktuur toegeken is.. Maatskaplike ontwikkeling sal R378,5 miljard ontvang. Die R99,1 miljard vir ouderdomstoelaes kom neer op ’n R90-verhoging vanaf 1 April met nog ’n R1o wat vanaf 1 Oktober inwerking sal tree.
Die Pleegsorgtoelae sal met R60 verhoog van R1 070 tot R1 130. Die Kinderonderhoudstoelae sal met R30 van R480 tot R510 verhoog. Ongeskiktheidstoelae sal met R90 verhoog van R1 990 tot R2 080 in April en daarna uiteindelik tot R2 090.



