Twee burgemeesterskomiteelede – JP Smith en Xanthea Limberg – se kantore is Vrydag 25 Januarie deur die polisie deursoek. Die polisie-optrede word vermoedelik met beweerde behuisingstenderbedrog verbind.
Volgens die Kaapstad-burgemeester, Geordin Hill-Lewis, kon die polisie tydens sy vergadering met hulle geen bewyse van ’n misdaad voorsien nie. Hill-Lewis het bevestig indien bewyse van enige misdaad wel teen een of al twee dié raadslede opduik, sal hy nie skroom om op te tree nie.
Hill-Lewis het in ’n verklaring verduidelik dat die verskil tussen Malusi Booi, die geskorste oudburgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, en die twee raadslede is dat die polisie etlike dae nadat die voormalige komiteelid vir menslike nedersetting se kantoor ook deursoek is, konkrete bewyse voorgelê het vir vervolging.
Booi en verskeie ander, onder wie ’n bekende bendeleier, staan tans in die hof op aanklagte van tenderbedrog tereg. Smith, ’n burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het egter in ’n onlangse TV-onderhoud uitgevaar teen die mense agter “die smeerveldtog” teen hom.
Smith het die bewerings dat hy groot somme geld ontvang het, as belaglik afgemaak. Volgens hom was dit reeds hy wat die nodige inligting aan die polisie deurgegee het nadat amptenare van Booi se kantoor gepraat het. Volgens Smith het amptenare vir hul lewe gevrees indien hulle sou praat en het met hom gesels oor wat in die kantoor gebeur.
Opposisiepartye het behoorlik gal gebraak omdat hulle glo die twee (Smith en Limberg) word beskerm.
Politieke leiers het vreedsaam voor die kantoor van die Stad Kaapstad betoog om hul ontevredenheid uit te spreek. Hill-Lewis hou egter voet by stuk dat daar nie genoeg bewyse is om teen die twee lede op te tree nie.




