Skietery in Atlantis is besig om ’n daaglikse roetine hier te word, sê inwoners wat stadig maar seker besig is om keelvol te raak.
Sedert die begin van die maand is op verskeie mense geskiet en in een voorval is vier jong mans gewond.
Die voorval het op die eerste dag van September ongeveer 21:00 in Neptune Castle in Avondale plaasgevind. Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is in die donker op die vier mans, wat sosiaal verkeer het, geskiet.
Die gewondes is almal na die plaaslike hospitaal geneem en vir hul skietwonde behandel.
Volgens Munro is dit onduidelik of die voorval bendeverwant is en sy het bevestig geen verdagtes is al aangekeer nie. Die voorval is voorafgegaan deur nog ’n skietvoorval vroeër in die oggendure nadat ’n man in Saxonsea gewond is.
Tussen 22:00 en 23:00 dieselfde aand is nog ’n man in Sherwoodpark gewond toe ’n onbekende man net op die slagoffer by sy huis begin losbrand het.
’n Voorval wat inwoners laat besef iets daadwerklik moet gedoen word, is toe ’n 16-jarige en 18-jarige geskiet is terwyl hulle na bewering ’n dobbelspeletjie in Kanonkop gespeel het. Die voorval het Woensdagaand 4 September plaasgevind. Geen verdagtes is nog in hierdie verband aangekeer nie, het Munro bevestig.
Met die bloed wat vrylik vloei het verskeie organisasies en gemeenskaplede Weskus Nuus genader en hul bekommernis oor die situasie uitgespreek. Volgens twee organisasies, wat nie geïdentifiseer wil word nie, sal iets daadwerkliks moet gebeur en hulle het die blaam op inwoners van buurte waar die skietery was, geplaas omdat hulle nie met die polisie wil saamwerk nie.
Een organisasie het gesê skieters word ná ’n dag of twee weer vrygelaat omdat die ondersoek nie deeglik gedoen word nie. Volgens ’n bron is dit inderdaad die geval en mense kan nie altyd die blaam op die hof lê nie.
Dat opgetree gaan word om Atlantis se strate weer terug te eis, is ’n feit, het een inwoner gesê, “al moet militante groepe se hulp ingeroep word”.
“Atlantis ruk handuit en nou is die regte tyd dat skieters vasgevat moet word.”
Atlantis se strate is die afgelope weke met baie bloed bevlek. Weskus Nuus het verlede maand oor byna agt moorde en verskillende pogings tot moord berig. Volgens ’n betroubare bron gaan baie bloed nog vloei – veral onder die verskeie bendes – en dit oor bendegebiede.





